Gesinskrisis in SA

Almal weet Suid-Afrika het ernstige
probleme met elektrisiteitsvoorsiening.
En ons weet ook die ekonomie gaan dus
selfs traer groei as wat vroeër voorspel
is.
Maar Suid-Afrikaners skik hulle na
omstandighede en dinge sal dus maar
op die ou stryk aangaan. Ministers sal
paai en sê alles is in orde en die aandag
elders probeer vestig, soos met die
begroting gedoen is toe die minister van
finansies gekla het die eiendomsbedryf
beduiwel die regering.
Hoe meer verskonings, hoe minder
gewig dra dit egter mettertyd.
Die staatsbeheerde media word aangesê
om oor positiewe goed te berig of op
Oscar Pistorius se verhoor te fokus.
Moet tog net nie laat blyk die regering
is planloos nie.
Die regering het verstrik geraak in sy
retoriek om die verlede die skuld te gee
vir die huidige probleme. En so word ’n
stokkie daarvoor gesteek dat ’n mens
daarop wys dat nie alle ongelykhede in
die land ekonomies van aard is en deur
“transformasie” verander kan word nie.
Die eerste punt van belang is dat 48%
van huishoudings in Suid-Afrika ’n
vrou as enkelbroodwinner het. Dis die
hoogste ter wêreld, volgens onlangse
inkomstenavorsing.
Die hartseersaak is dat baie kinders in
dié huishoudings nie hul skoolopleiding
gaan voltooi nie. Dié huishoudings is
ook gewoonlik armer en merendeels
swart. Beter onderwys en opleiding en
die bestendigheid van ’n pa-figuur sal
op die lange duur veel meer beteken as
wat volop elektrisiteit ooit sal kan.
Dis ’n terrein waarop ons ’n groot
verskil kan maak, maar dit verg
maatskaplike verandering, nie geld nie.
Pa’s moet saam met ma’s
verantwoordelikheid vir hul kinders
aanvaar. Suid-Afrika kan nie maar net
voortploeter nie, anders gaan onreg deel
van ons bestaan bly.
Waar is die stemme wat opgaan teen dié
werklik groot oorsaak van ongelykheid?
Volgens die 2011-sensus het 90% van
huishoudings elektrisiteit, maar het 12%
van huishoudings weeskinders. Dit
beteken meer huishoudings het ’n ouer
verloor as wat sonder elektrisiteit is!
Talle kinders word by hul grootouers of
ander familielede groot of hanteer self
die huishouding. Dit lyk of die tipiese
gesinsopset nie wyd in Suid-Afrika geld
nie.
Ons kla oor die las wat die
elektrisiteitsprobleme op die ekonomie
plaas, en ek stem ten volle daarmee
saam. Daar word egter elders erger
struikelblokke vir ons volgende geslag
in die pad gelê. Maar daaroor word nie
gepraat nie, want dit pas nie in die
huidige belangeraamwerk nie.
Ek sê nie dié kinders is verlore nie,
maar hul toekoms lyk minder
rooskleurig en dit gaan die
onderwyspeil en ekonomiese
vooruitsigte raak.
Ons moet wel ons ekonomie
transformeer, maar die onderwysstelsel
kan nie sy deel bydra as kinders nie ná
skool onder toesig is en hul huiswerk
doen nie. In Amerika is in verskeie
ondersoeke bevind dat kinders uit ’n
enkelouerhuishouding veel swakker
vaar as diegene met twee ouers.
Die gebrekkige onderwysstelsel is ’n
verdere remskoen vir ons ekonomie. Ek
aanvaar slaagsyfers is hoër. Wat ek
bevraagteken, is die gehalte van
onderwys en die bruikbaarheid van
mense as hulle die skool verlaat.
Swak vordering is veral algemeen in
staatskole waar geen skoolgeld betaal
word nie. Ek het ’n paar jaar gelede
saam met ’n groep sakelui ’n toer
gedoen wat die Johannesburgse
stadsraad gereël het. Dit was skokkend
om te sien hoeveel kinders buite eerder
as op skool was.
Kinders uit enkelouergesinne verdien
uiteindelik minder en val aan die
onderpunt van die inkomsteskaal in
lande waar hierdie ondersoeke gedoen
is. Ek sou reken weeskinders vaar selfs
swakker.
Ons kan nie die ewewig in die
ekonomie regstel teen die agtergrond
van sulke gesinswanbalanse nie.
Anders as die Eskom-haakplekke gaan
hierdie vraagstukke nie binne die
volgende tien jaar uitgestryk word nie.
(Ek hoop Eskom kan dinge binne tien
jaar regruk, maar noudat ons ná ses
jaar weer met kragonderbrekings sit, is
ek minder hoopvol as voorheen.) Mans
wat nie hul verantwoordelikheid as pa’s
nakom nie, het waarskynlik die grootste
aandadigheid aan huidige en
toekomstige ongelykhede.
Suid-Afrika het van die ergste inkomste-
ongelykheid en van die laagste
indiensnemingsvlakke ter wêreld.
Dis nie, soos baie mense dink, net
weens loongapings nie. In
ongelykheidsmetings word
huishoudelike inkomste in ag geneem,
en as byna 60% van huishoudings ’n
enkelouer of kind aan die hoof het,
vergroot dit ongelykheid uiteraard. Die
ironie is dat buitelandse databasisse dié
inligting uitlig, maar ons sien dit nie
raak nie.
En terwyl ons swak onderwysstelsel op
pad is om die volgende groep armes te
lewer, gaan ongelykheid in die volgende
geslag voortduur. Gaan apartheid met
die 50ste herdenking van demokrasie in
2044 steeds die sondebok wees?
Ons moet koppe bymekaar sit en eerlik
begin gesels. Maar dis dalk net so ’n
veraf droom as dat Eskom die
kragtoevoer voor die einde van die
dekade gaan regkry.
* Mike Schüssler is van Economists.co.za
en ’n vorige wenner van Sake se
Ekonoom van die Jaar-wedstryd.

Source: www.beeld.com/sake/2014-03-16-kragonderbrekings-nie-sa-se-enigste-probleem

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a comment