Dubbele standaarde en swart bevoorregting: Die nuwe storie van Suid-Afrika – AfriForum

Toespraak deur Ernst Roets, Adjunk Uitvoerende Hoof van AfriForum

Konferensie oor “witheid” –5 November 2015

“Jode is oneerlike diewe wat ander mense se geld steel.”

“Asiërs is onmenslik en hulle gee nie om vir hulle medemens nie.”

“Moslems is terroriste en hulle moet vir bomme deursoek word.”

“Indiërs kan nie ernstig opgeneem word nie, omdat hulle oneerlik is en verspotte aksente het.”

“Kleurlinge is gewelddadige bendelede wat altyd dronk is.”

“Alle witmense is kriminele en moet sodanig behandel word. Ons moet hulle eiendom vat, hulle van werksgeleenthede ontneem en hulle as tweedeklas-burgers behandel. Witmense is verkragters, honde en lafaards. Ons moet liedjies sing oor hoe hulle afgemaai en vermoor moet word. Volgens die witman se geloof is vrouens niks meer as eiendom wat aangerand en vermoor kan word soos hulle goeddink nie. Witmense is in die minderheid en dit beteken dat hulle minder regte as die res van ons moet hê… Absoluut, dit is hoe demokrasie werk. En indien hulle dit waag om teen hierdie sienings te protesteer, moet ons vir hulle sê om hul monde te hou, omdat hulle rassiste is wat maar net kry wat hulle verdien.”

Dames en here, ek stem nie met enige van die bogenoemde aanhalings saam nie. Ek glo dat die hele lot valse stereotipes en uiters rassisties is. Volgens die sienings van die Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC, kan al bogenoemde uitlatings egter as rassisties beskou word. Die hele lot, behalwe dié wat met witmense verband hou. Inteendeel, wat ek so pas oor witmense gesê het, is ʼn versameling ANC-aanhalings en -beleidstandpunte.

Ek glo dat die onderwerp van “witheid” ʼn misplaaste onderwerp is. Ek glo dat ʼn oplossing vir die sogenaamde probleem van “witheid” min sal doen om Suid-Afrika vorentoe te laat beweeg, aangesien witmense nie te blameer is vir Suid-Afrika se hedendaagse krisis nie.

Ek glo dat ons net sowel ʼn konferensie oor “swartheid” kan inisieer en hoe swartmense hulle denkwyse moet begin verander.

Maar indien ons “swartheid” bespreek, word ons slegs toegelaat om te bespreek hoe swartmense in die verlede uitgebuit is en nie hoe swartmense hulle denkwyse moet verander nie. Want laasgenoemde sal rassisties wees.

Indien ons egter “witheid” bespreek, word ons slegs toegelaat om te bespreek hoe witmense hulle denkwyse moet verander en nie hoe hulle tans uitgebuit word nie. Want laasgenoemde sal rassisties wees.

Dít, dames en here, is die verhaal van post-apartheid Suid-Afrika: ʼn Verhaal van dubbele standaarde. ʼn Verhaal waarin die president van die land in die Parlement kan argumenteer dat mense wat in die minderheid is, minder regte moet hê, en waar hy openlik argumenteer dat elke liewe ding wat in hierdie land foutief is, voor die voete van die witman se voorvaders gelê kan word.

Ek wil graag in die openbaar verklaar dat ek nie my identiteit as ʼn witman koester nie. Ek glo dat die kleur van jou vel veronderstel is om irrelevant te wees. Ek het ook nog nooit vantevore ʼn toespraak oor witmense gelewer nie, maar ek doen dit nou, omdat daar vir my gevra is om dit te doen. Ek beskou egter my godsdienstige identiteit as ʼn Christen as fundamenteel. Ek beskou my kulturele identiteit as ʼn Afrikaner as ʼn onlosmaaklike deel van wie ek is. Ek beskou my geografiese identiteit as ʼn Afrikaan as ononderhandelbaar.

Maar word ek toegelaat om ʼn Afrikaan te wees? Gedurende sy bekende “Ek is ʼn Afrikaan”-toespraak, het voormalige president Thabo Mbeki te kenne gegee dat ek mag wees. President Jacob Zuma het na Afrikaners verwys as die wit stam van Afrika. In daardie geval skat ek dat ek ʼn Afrikaan kan wees.

Maar volgens die wette van hierdie land en die manier waarop dit deur ons howe geïnterpreteer word, kan ek nie ʼn Afrikaan wees nie. Die Wet op Bevolkingsregistrasie – ʼn wet wat gebruik is om mense volgens die kleur van hulle vel te kategoriseer – is afgeskaf weens die rassistiese aard daarvan. Dit is dus ironies dat die wette wat sedertdien geïmplementeer is, voortgaan om op die basis van ras te diskrimineer. Daar is egter geen wet waarvolgens verskillende rasse gekategoriseer word nie. Want om só ʼn wet te hê, sal rassisties wees. Verder is dit presies waarteen die ANC geveg het. So wat doen ons? Ons skrap die wet, maar gaan voort om dit in elk geval toe te pas.

Tegnies gesproke is daar geen regsbasis waarvolgens my ras gedefinieer word nie. “Wit” word nie in die Wet op Billike Werksgeleenthede gedefinieer nie, ook nie in die Wet op Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtiging nie, ook nie in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie nie. “Swart” word egter gedefinieer as “’n generiese term wat na Afrikane, kleurlinge en Indiërs verwys”.

“Afrikaan” word egter nie gedefinieer nie. Volgens ons Grondwet het elke landsburger die reg tot vryheid van assosiasie en “onbillike” diskriminasie word verbied. Ek assosieer myself met die term “Afrikaan”. Beteken dit dat ek swart is?

Indien daar gekyk word na die manier hoe die wet toegepas word, is dit duidelik dat ek nie swart kan wees nie, bloot omdat ek nie ʼn Afrikaan kan wees nie, ten spyte daarvan dat ek verkies dat daar só na my verwys word. As prokureur kan ek ʼn deeglike argument maak dat dit onbillike diskriminasie en ongrondwetlik is. Maar ek weet dit is nie hoe die Grondwet vertolk word nie.

Dit is hoekom ek sê dat dubbele standaarde die verhaal van Suid-Afrika geword het. Kom ons begin met ʼn paar voorbeelde van hoe ons met ons geskiedenis handel:

Witmense word uitgekryt as “gronddiewe” omdat hulle ander mense se grond gevat het. Vreemd, want dit is presies wat Shaka gedoen het en dit is presies wat Mzilikazi gedoen het. Mzilikazi, wat die grootste volksmoord in Suid-Afrikaanse geskiedenis gepleeg het, word egter uit die geskiedenisboeke geskryf en Shaka word as ’n held voorgehou. Dit wil dus voorkom dat in gevalle waar swartmense mekaar vermoor het, mekaar se grond gevat het en selfs volksmoord gepleeg het, maak dit nie saak nie, omdat hulle swart was. Dit blyk dat #blacklivesmatter, maar slegs wanneer die moordenaars wit is. #peopleswar #ANCvsInkatha #StompieSeipei.Die gruweldade wat deur die witmense van die Vlakplaas-eenheid van die voormalige SAP gepleeg is, word in geskiedenisboeke benadruk as ’n voorbeeld van wit wreedaardigheid. Terselfdertyd word die martelings van swartmense deur die ANC by Quattro en ander ANC-kampe in Afrika geïgnoreer.Ons word vertel dat name soos “Kerkstraat” in Pretoria verander moet word omdat name wat aanstoot gee, nie verdra moet word nie. Intussen word Amanzimtoti se hoofstraat, Kingsway (beswaarlik ’n naam wat aanstoot gee), na Andrew Zondostraat verander. Andrew Zondo, ’n ANCJL-lid ten tyde van die voorval, is slegs bekend vir een ding. Op 23 Desember 1985 het Zondo ’n bom in ’n winkelsentrum geplant en sodoende een wit baba, een wit dogtertjie en twee wit vrouens vermoor. Sommige van die families van hierdie vermoorde slagoffers wat steeds in Amanzimtoti woon, kan nou werk toe ry in ’n straat wat na die man vernoem is wat hulle geliefdes vermoor het. Maar in die Suid-Afrikaanse verhaal van dubbele standaarde is dit nie aanstootlik nie en die moordenaar word as ’n held beskou, oënskynlik omdat hy swart was en sy onskuldige slagoffers wit.

Kom ons kyk nou na hedendaagse voorbeelde van dubbele standaarde:

Toe twee damestudente van die Universiteit van Pretoria (UP) hulleself swart geverf het by ʼn privaat partytjie, is hulle summier uit hulle koshuis geskors, selfs nog voordat enige ondersoek na die voorval afgehandel kon word. SASCO het gedreig om universiteite regoor die land lam te lê. Die Menseregtekommissie (MRK) het ’n ondersoek na die “skandaal” geloods. Nie lank daarna nie is nóg ’n foto gesirkuleer. Hierdie keer het twee wit studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) hulle gesigte swart geverf tydens ʼn fantasiekostuumpartytjie. Hulle het soos Venus en Serena Williams aangetrek. Die media het weereens hul hande vinnig op die storie gekry: “Black face scandal hits Stellenbosch,” het een mediahuis berig. Soos verwag, het die universiteit dié keer weer in die openbaar aangekondig dat ʼn ondersoek gedoen word en die studente is gedwing om in die openbaar om verskoning te vra vir hulle “wangedrag”. Kort voor lank het die debat in ’n groot grap op sosiale media ontaard. Talle foto’s van swart studente wat hulleself wit geverf het of soos wit boere aangetrek het, het skielik te voorskyn gekom en die algemene vraag was waarom hierdie mense nie ook van rassisme beskuldig is nie. Die kort antwoord: Omdat hulle swart was.Verlede jaar het twee wit studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in ʼn swart student vasgery. Die studente is daarvan beskuldig dat hulle dit met opset gedoen het, en verder dat hulle die swart student aangerand het. Dit is beskryf as ’n daad van rassisme. Die studente is deur die universiteit geskors sonder ʼn verhoor, op aandrang van die visekanselier, en hulle is verskriklik in die openbaar beledig. ’n Hof het hulle egter vrygespreek van al die aanklagte teen hulle en die MRK het bevind dat die voorval geensins rassisties van aard was nie. Kort ná hierdie voorval het basies dieselfde ding gebeur, maar die rassesituasie was omgeswaai, toe ’n wit student deur ’n swart student van sy bromponie gegooi en aangerand is. Hoewel ’n klagte ook teen die swart student gelê is, het die universiteit in die openbaar geswyg, en die saak is kort daarna laat vaar.Die minister van hoër onderwys het op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ingegryp ná gerugte van sogenaamde “Nazi-aktiwiteite” op kampus. ’n Onafhanklike ondersoek het bevind dat daar geen teken van Nazi-aktiwiteite voorgekom het nie, maar dit het egter nie die minister ontmoedig nie. Hy het verklaar dat hy nie omgee oor enigiemand se opinie nie, want hy is reeds oortuig dat die studente met Nazi-aktiwiteite besig was. Valse beskuldigings van Nazisme is as ’n groen lig gebruik om die kampus “radikaal te transformeer”, wat in praktyk beteken dat daar te veel witmense is.

Kort daarna het ʼn rassistiese pamflet op die kampus verskyn met die woorde “Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans”. Die nuwe visekanselier, prof. Dan Kgwadi, het gesê dat die universiteit ʼn ondersoek na die bron van hierdie pamflet aangevra het, en het onmiddellik bygevoeg dat die moontlikheid nie uitgesluit word dat die pamflet in werklikheid deur witmense versprei is nie.

Toe die sogenaamde Rhodes Must Fall-veldtog in volle swang was, het die leier van hierdie veldtog klasse ontwrig, wit lektore geïntimideer en gesê dat witmense doodgemaak moet word. Hierdie veldtog is egter steeds as heldhaftig deur die regering beskou, en ons hoor steeds dat sy ideale nierassig is.Toe swart studente wit studente by die Elsenburg Landboukollege met swepe en sambokke aangeval en aangerand het, het die visekanselier en bestuur van die Universiteit van Stellenbosch hul daarvan weerhou om uitsprake te maak oor wat gebeur het. Toe AfriForum Jeug egter betrokke raak en verklaar dat hulle privaat sekuriteitsfirmas gaan aanstel om onskuldige studente te beskerm teen die aanvalle van betogers, het dieselfde universiteitsbestuur klaarblyklik gereageer en gesê dat AfriForum Jeug se optrede (nie die optrede van betogers wat mense aangerand het nie) besig was om die universiteit te polariseer.Wanneer witmense die uiters verkleinerende sogenaamde “k-woord” gebruik, argumenteer ʼn baie klein groepie van hulle dat die woord ʼn historiese betekenis het wat niks met rassisme te doen het nie en om daardie rede kan die woord nie as rassisties beskou word nie, en dat swartmense se gevoel oor die woord dus irrelevant is. Dit is natuurlik ’n belaglike argument. Maar wanneer swartmense sing oor hoe witmense honde en verkragters is en hoe hulle geskiet moet word, gebruik dieselfde mense wat kwaad word wanneer witmense oor die k-woord argumenteer, vinnig presies dieselfde argument om hierdie rassistiese liedjies te beskerm. Hulle argumenteer dan dat die liedjies ’n historiese betekenis het wat anders is as wat die woorde daarvan aandui. Hulle argumenteer dat witmense se gevoel hieroor irrelevant is. Die ANC was bereid om hof toe te gaan om hulle sogenaamde reg om die liedjies te sing wat daaroor handel om witmense te vermoor, te beskerm.

Ek kan voortgaan om nóg voorbeelde te noem, maar weens tydbeperkings sal ek nou afsluit.

Hierdie verskynsel, dames en here, kan dubbele standaarde genoem word. Dit kan ook as swart bevoorregting (black privilege) beskryf word.

Swart bevoorregting is die voorreg om rassistiese beleide te implementeer en dit dan “transformasie” te noem.Dit is die voorreg om in staat te wees om op ʼn verhoog voor die staatspresident te staan en te sê dat alle witmense kriminele is en sodanig behandel moet word, sonder dat hy ʼn oog knip.Dit is die voorreg om deur potensiële kandidate te sif vir die aanstelling van regters gebaseer op hulle gewilligheid om die ANC se politieke ideologie uit te voer.Swart bevoorregting is die voorreg om te bepaal wie wettiglik toegelaat mag word om hulleself Afrikane te noem en wie nie.Dit is die voorreg om teen apartheid uit te vaar omdat rassistiese beleide geïmplementeer is, maar om dan om te draai en presies dieselfde ding te doen en daarmee weg te kom.Dit is die voorreg om aanvaar te word om medies te studeer en ʼn dokter of ʼn chirurg te word, ten spyte daarvan dat jy nie aan die minimum vereistes voldoen het om in die eerste plek toelating tot ʼn mediese fakulteit te verkry nie, terwyl wit kinders wat wel die vereistes gehaal het, afgekeur word, omdat hulle wit is en vir jou moet plek maak.En die ergste van alles: Swart bevoorregting is die voorreg om te argumenteer dat jou ras só superieur is, dat jy uitgesluit word van die basiese definisie van rassisme en dat jy nooit rassisties kan wees nie, bloot omdat jy swart is. Dít, dames en here, is die uiterste vorm van rassisme.

Ek glo dat ek sommige mense moontlik kwaad gemaak het met hierdie toespraak.

Indien dit wel die geval is, sal ek nou doen wat van wit mans verwag word: Ek sal om verskoning vra en gaan sit. Maar moenie bevrees weers nie, want hierdie is ’n demokrasie. As julle wil kan ons nou stem of my argumente geldig is. Dan kan julle, as die meerderheid, my uitstem.

Maar dít, glo ek, is die nuwe verhaal van Suid-Afrika.

Ernst Roets

Source: https://www.afriforum.co.za/dubbele-standaarde-en-swart-bevoorregting-die-nuwe-storie-van-suid-afrika/

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s