ANC het armoede nodig

Ek het verlede jaar ’n voorligtingsessie vir ’n Amerikaanse korporasie met beleggings in Suid-Afrika aangebied.

Deur die loop van die oggend het ek die regering se jongste beleidsvoorstelle met hulle behandel, wat gewissel het van wetgewing tot die beslaglegging op private bates en regulasies wat dit vir sakeondernemings baie moeiliker sou maak om opgeleide beroepsmense na Suid-Afrika te bring. Toe ek klaar was, het een van die direkteure, wat op besoek uit Amerika was, my gevra of die ANC dieselfde party is waarvan Nelson Mandela ’n lid was. Toe ek bevestigend daarop antwoord, was haar reaksie: “Dit is vir my baie vreemd, want die beleid wat u beskryf kom byna sosialisties voor.”

Dit is ’n belangrike storie omdat dit getuig van die goedgelowigheid van baie mense wat probeer sin maak van die huidige Suid-Afrika en die huidige ANC.

Ons ontvang daagliks navrae uit die sakesektor en van diplomatieke leiers wat te kenne gee hulle kan nie verstaan wat die regering doen nie. Hulle sê, heeltemal tereg, regeringsbeleid verdryf beleggers uit die land.

Dan vra hulle: “Verstaan die Suid-Afrikaanse regering nie dat hulle nooit werkgeleenthede sal skep of armoede kan oorkom solank hulle so aangaan nie?”

“ MAAR HULLE IS GEFLOUS EN NOU, 20 JAAR LATER, VAL DIE PARTY EENVOUDIG TERUG OP WAT DIT ALTYD WAS. ”
Die probleem is dat hierdie waarnemers Suid-Afrika uit ’n Westerse liberale perspektief probeer verstaan. Maar dié Suid-Afrika bestaan nie en het waarskynlik nooit bestaan nie. Selfs die beeld van Mandela as ’n liberale demokraat is tot ’n mate ’n fantasie wat net kan voortbestaan deur Mandela se eie sosialistiese verlede te ignoreer.

Daarom verduidelik ons dat die ANC ’n sosialistiese – selfs kommunistiese – organisasie is en dat van sy hedendaagse leiers Suid-Afrika in ’n sosialistiese diktatuur probeer omskep. Dan word dieselfde sake- en diplomatieke leiers kwaad en sê vir ons dit kan nie waar wees nie.

Hulle is verward en kan nie aanvaar dat die ANC hulle in die 1980’s en 1990’s so kon flous deur voor te gee dat hulle Suid-Afrika se groot demokratiese hoop is nie.

Maar hulle is geflous en nou, 20 jaar later, val die party eenvoudig terug op wat dit altyd was.

Sakeleiers is natuurlik reg dat ANC-beleid sleg vir die ekonomie is. Die ANC weet dit self, maar van hul leiers gee nie om nie, omdat volle politieke beheer oor ’n verswakte en geruïneerde ekonomie vir die party belangriker is as beperkte politieke beheer oor ’n florerende ekonomie.

Verskeie ANC-leiers besef dit wat sakeleiers nie kan verstaan nie – dat arm en desperate mense in landelike gebiede makliker is om te beheer as ’n onafhanklike, vooruitstrewende nuwe middelklas van goed opgevoede eiendomsbesitters.

Ons analiste het ’n byna perfekte omgekeerde verband tussen mense se onderwys- en inkomstevlakke en hul steun vir die ANC gevind. Die gehalte van swart skole sal dus natuurlik nie verbeter word nie en die ANC se huidige leierskap dink waarskynlik sakeleiers is onnosel om voor te stel dat dit moet gebeur.

Die party verkies om oor ’n onkundige en verarmde landelike gemeenskap te regeer wat te dankbaar is as partyleiers hulle besoek om kospakkies en T-hemde uit te deel. Dan kan hierdie leiers vir hul ondersteuners die feëverhaal vertel van hoe hulle vreemde imperialiste en kapitaliste beveg om die armes te bevry.

Ons kan trouens so ver gaan as om te sê dat die ANC armoede en werkloosheid nodig het as hulle wil oorleef.

Source: http://www.netwerk24.com/stemme/2015-03-01-frans-cronj-die-anc-het-armoede-nodig-om-te-oorleef

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s