SA ekonomie in die gemors

Verlede week het die Internasionale Monetêre Fonds
(IMF) die groeivooruitsigte vir die wêreldekonomie vir
vanjaar van 3,4% tot 3,3% afgeskaal.
Dié besluit is verwag, maar word as waarskynlik
steeds ietwat optimisties beskou.
Die IMF verwag dat die wêreldekonomie in die ses jaar
tot 2019 maar teen 3,9% per jaar sal groei.
Die verwagtinge vir Suid-Afrika is selfs erger: Die
verwagte groei is van 2,4% in April tot net 1,4%
verlaag.
Oor ’n langer tydperk sal Suid-Afrika se groei nog
meer verlangsaam.
Die IMF, wat gewoonlik baie optimisties is, voorspel
gemiddelde groei van net 2,4% per jaar tot 2019! Net
ses maande gelede het die IMF 2,9% voorspel, wat
klaar heelwat swakker is as die 3,2% wat in 2013
verwag is en die 3,5% van 2012.
Die 2017-groeivooruitskatting was byvoorbeeld skaars
twee jaar gelede 5% – nou is dit 2,7%. Geen jaar
vorentoe het ’n BBP-groeivooruitskatting van die IMF
wat meer as 2,8% is nie.
Daar word nie ’n wesenlike verbetering in die
werkloosheidskoers verwag nie; dit sal in die volgende
ses jaar op min of meer 25% bly. Die IMF skat nie die
beplande 5 miljoen poste vooruit nie en dis duidelik
dat hulle reken werkloosheidsyfers sal toeneem.
Intussen sal die tekort op die lopende rekening
gemiddeld 5,2% van die bruto binnelandse produk
(BBP) tot 2019 beloop.
Voeg dan die regering se strukturele tekort daarby, wat
op 5% oor dieselfde tydperk geraam word.
Ons word dus die eerste land met ’n gemiddelde
tweeledige tekort van 10% van die BBP in ’n dekade.
Dit is nie volhoubaar nie.
Dít en die regering se dalende inkomste beteken dat
die skuld-tot-BBP-koers tot naby 60% sal styg, volgens
die IMF. Dit gaan heel waarskynlik eerder 70% wees,
aangesien die regering nie daarvan sal hou om
besteding te besnoei nie.
Dié aangepaste voorspellings van die wêreldliggaam
trek die klere uit wat die keiser gedink het hy dra.
Swak groei, hoë werkloosheid, groot tekorte en
prysstygings van ver bo die wêreldgemiddelde lig ons
powere ekonomiese vertoning uit.
Die afgelope vyf jaar se groei was maar gemiddeld
1,9% per jaar en die volgende vyf gaan nie soveel
beter wees nie.
Onthou, dit is nie die een of ander gemene malle wat
Suid-Afrika wil diskrediteer nie. Dit is die IMF.
Ja, die einste, die wêreld se ekonomiese
brandbestryder, wat gewoonlik ’n woordjie of drie in
jou land of regering se guns sê. Dié keer wys hy egter
net op die gevare waarvoor Suid-Afrika te staan kom.
Die rooskleurige lense word vinnig donker – miskien té
donker – maar buitelanders is nou meer bekommerd
oor hul Suid-Afrikaanse bates.
Hulle word nou baie waaksaam en al hoe meer praat
met plaaslike kenners om te hoor hoe sake staan.
Vir seker is dit nie net Suid-Afrika wat probleme het
nie. Europa sukkel ook, maar die punt hier is dat daar
nie ’n ander ontluikende mark met dié vlak van
werkloosheid en swak groeivooruitsigte is nie.
’n Paar onkonvensionele voorspellings van my eie:
■ Die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid
gaan groter word. Politiek sal die gevangene van dié
gaping word.
■ Die breër werkloosheidsyfer sal teen 2019 meer as
10 miljoen wees.
■ Mense wat werk, gaan ’n al hoe kleiner deel van die
volwasse bevolking uitmaak en hulle sal onveiliger
voel. Die spanning aan die werkfront sal vererger
namate meer mense vir minder werk baklei.
■ Misdaad sal vererger soos wat die see van werklose
jong mense groei.
■ Polities gesproke is ons verby die kruispad en gaan
ons al hoe meer radikale partye aan die linkerkant sien
opspring soos wat die idee dat ultra-linkse beleid ons
kan red, aangevuur word deur dié met politieke
ambisies (wat, per slot van rekening, ook ’n werk is).
■ Rasse-bevoorregting sal die skuld bly kry vir baie
van die probleme en die regering se foute sal voor die
deur van die private sektor gelê word.
Maar die knyptang kom en die oplossings sal ons dalk
nog verras. Radikale linksgesinde politici wêreldwyd
kry ’n hartaanval wanneer hulle die binnekant van leë
kaste gewys word!
“ ONTHOU, DIT IS NIE DIE EEN OF
ANDER GEMENE MALLE WAT SUID-
AFRIKA WIL DISKREDITEER NIE.
DIT IS DIE IMF. JA, DIE EINSTE, DIE
WÊRELD SE EKONOMIESE
BRANDBESTRYDER. ”
– Mike Schüssler
Die privatisering van Eskom en Rand Water kan ’n
opsie wees wanneer die geld begin opdroog, asook die
sluiting van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die
Gautrein, wat albei miljarde rande per jaar kos.
Die verkoop van wildreservate en openbare uitsaaiers
is dalk nog nie op die tafel nie, maar dit kan ook deel
van die oplossing word.
Die wêreld se vierde grootste openbare betaalstaat as
persentasie van die BBP sal ook besnoei moet word –
en dít sal dalk net lei tot die einde van die regerende
alliansie, aangesien staatsdiensvakbonde nou Cosatu
beheer.
Meer dinge sal uitgekontrakteer word, soos
gesondheidsorg en onderrig. Dit sal aanvanklik stil-stil
gebeur, maar moenie verras wees as jou plaaslike
skool aan die gemeenskap gegee word nie.
Die provinsies sal ook in verskillende rigtings gaan
soos wat die ryker provinsies, soos Gauteng en die
Wes-Kaap, begin voel hulle kry nie meer hul billike sny
van die koek nie. Migrasie na stede sal voortduur en
diensleweringsbetogings sal van die townships na
voorstede beweeg, waar die water- en kragkrisis ook
tot radikalisering sal lei.
Die e-tol-beweging was die eerste openlike opstand
teen belasting en die nie-betaling van munisipale
dienste het in Junie R75 miljard gehaal vir rekeninge
wat 90 dae agterstallig is – en dít ondanks
afskrywings van R10,6 miljard die afgelope jaar.
Voorstede sluit aan by die nie-betaal-revolusie, soos
wat hulle met e-tol en die wanbetaling van
verkeersboetes doen. Dit word reeds op
gemeenskapsforums en plaaslike sakekamers
bespreek.
Die koekie is besig om te verkrummel en die rotte en
muise gaan oor die krummels baklei.
Die verswakkende tendens in ekonomiese groei sal
verander hoe mense dink en optree. Dit sal dalk net
die alarm wees wat die land nodig het – maar dit gaan
pynlik wees.

Source: www.netwerk24.com/sake/2014-10-13-selfs-die-wreldekonomie-se-brandbestryder-kan-sa-vlamme-nie-blus

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s