SA slegste in wêreld met Wiskunde en Wetenskap

Ons word al hoe meer ’n land waar ons nie die kundiges het wat in broodnodige vaardighede voorsien nie.
Suid-Afrika het heel laaste uit 148 lande gekom wat die gehalte van wiskunde- en wetenskap-onderrig betref.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het na die finansiële ontwikkeling in 148 lande gekyk en bepaal die gehalte van onderrig in wiskunde en wetenskap is die beste in Singapoer, Finland en België.

’n Verslag daaroor is die naweek uitgereik.

Suid-Afrika is die swakste en in die geselskap van lande soos Egipte, die Dominikaanse Republiek en Angola.

Prof. Kobus Maree, onderwys- en wiskundekenner aan die Universiteit van Pretoria, het gesê dit is vir hom niks nuuts nie.

“Dit is baie tragies en ’n groot jammerte dat dit so is, maar dit is niks ongewoons nie. Ek het nie baie hoop vir die toekoms nie,” het hy gesê.

“Ons word al hoe meer ’n land waar ons nie die kundiges het wat in broodnodige vaardighede voorsien nie.”

Tim Gordon, ’n onderwyskenner en uitvoerende hoof van die stigting vir beheerliggame, meen die syfers skets nie die volle prentjie nie. “Ek kan nie aanvaar dat ons so sleg vaar nie. ’n Mens moet onthou dat Suid-Afrika een van die top-lande is wat skoolinskrywings betref.

“Ons vergelyk dus appels met pere, want ons vergelyk basies ons hele bevolking met ’n baie kleiner groep in ander lande.”

Hy meen dat toetsing in Suid-Afrika ook geloofwaardiger is as ander lande s’n.

Ander faktore, soos kinders wat honger skool toe gaan, speel ook ’n rol, het hy gesê.

Daarbenewens word leerlinge “gedwing” om wiskunde as vak te neem, en dit dra by tot die probleem. “Dit beteken dat goeie wiskunde-onderwysers te dun gesaai word.”

Hy meen ook daar is ’n gebrek aan opleiding op alle vlakke vir wiskunde-onderwysers.

Maree en Gordon meen die toedrag van sake kan wel verander word.

“Ons moet gebruik maak van wat ons het.

“Daar is die verskynsel dat ons van talent ontslae geraak het oor ’n bepaalde velkleur. Bring daardie mense terug na die klaskamer. As daar mense is wat ’n bydrae kan lewer, maak gebruik van hierdie kundigheid,” het Maree gesê.

Gordon het gesê die beroep moet aanlokliker gemaak word sodat sulke onderwysers weet hulle lewer ’n noodsaaklike diens. “Daar is ’n koor van onderwysers wat voel hulle word misken en nie gewaardeer nie.”

Onderwysers moet ook meer verantwoordbaar gehou word.

“Daar is tans geen geloofwaardige maatstaf vir doeltreffendheid nie en baie min nagevolge vir swak vertonings. As iets gemeet kan word, raak dit beter,” het Gordon gesê.

Gordon en Maree reken onderwysers moet spesialiseer en dat spesialiste van ’n vroeë stadium gekweek moet word. Sulke onderwysers moenie ander vakke soos tale of lewensoriëntering aanbied nie.

Gordon meen ook leerlinge wat geen belangstelling in wiskunde het nie, moet ook die geleentheid kry om dit vroeër te los om sodoende druk op goeie wiskunde-onderwysers te verlig.

Source: http://www.beeld.com/nuus/2014-06-01-sa-heel-slegste-met-di-onderrig

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s