Grondgryp in SA

Eiendomsreg in Suid-Afrika is op dieselfde pad as dié van Zimbabwe, skryf Cornelius Janse van Rensburg.

Sal eiendomsreg die vyfde parlementstermyn oorleef?

Dit klink dalk na ’n vreemde vraag, maar in sy inhuldigingstoespraak het pres. Jacob Zuma vir die volgende vyf jaar “radikale ekonomiese transformasie” beloof.

Dis maklik om “ekonomiese transformasie” met ekonomiese groei te verwar, maar die twee is glad nie dieselfde nie. Ekonomiese vooruitgang gaan gepaard met hoër spaarkoerse en produktiwiteit en is onlosmaaklik met eiendomsreg verweef, terwyl radikale ekonomiese transformasie herverdeling – oftewel onteiening – van bates veronderstel. Dit is dus ’n geldige vraag of eiendomsreg die vyfde parlementstermyn sal oorleef.

Die aanslag op eiendomsreg is tot onlangs deur vele as politieke retoriek afgemaak. Met ’n politieke landskap wat toenemend na links skuif, kan ons egter verwag dat politici al hoe meer radikale beleid sal begin instel.

Politieke uitsprake word reeds opgevolg met verskillende beleidsdokumente en wetsontwerpe wat, indien jy dit saam lees, die sekerheid van eiendomsreg ondermyn. Dit sluit in:

* Met die Nasionale Ontwikkelingsplan word beoog om 20% van ’n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van die waarde wat deur die staat (ingevolge die wetsontwerp op eiendomswaardasie) bepaal sal word.

* Die konstitusionele hof het in sy uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die minister van minerale bronne onderskei tussen die begrippe “ontneming” en “onteiening”. Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir ’n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as ’n “bewaarder” optree.

* Die oogmerk met die groenskrif op grondhervorming is om eiendomsreg radikaal te herontwerp, onder meer met ’n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal beperk. Binne hierdie konteks word daar ook ’n grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte vir dispute oor titelaktes verkry.

* Met die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” word beoog om tot 50% van ’n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hul arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding sal hiervolgens aan die eienaar betaal word nie.

* Die wetsontwerp op onteiening stel dat onteiening in openbare belang kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net van toepassing op grond nie, maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op ’n ad hoc-wyse bepaal met herverdeling as doelwit.

* Die wetsontwerp op die bevordering en beskerming van beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde – alles in die naam van die sogenaamde regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier.

* Met die wetsontwerp op die ontwikkeling van infrastruktuur word beoog om sogenaamde ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die presidensiële infrastruktuur­koördineringskom- missie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig aan die openbare doel en belang.

* Die doel met die wet op ruimtelike beplanning en die bestuur van grondgebruik is gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sogenaamde ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkostebehuisingsgebiede te integreer.

* Die wysigingswetsontwerp op die uitbreiding van die sekerheid van verblyfreg is bedoel om die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes te verbreed. Uitsettings word strenger bestuur en behels ’n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.

* Die wysigingswetsontwerp op die herstel van grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.

* Groter regulering van huurhuisvesting word in die vooruitsig gestel met die wysigingswetsontwerp op huurbehuising. Huurtribunale sal ingestel word om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.

* Die verhandeling van waterregte sal kragtens die wysigingswetsontwerp op na­sionale water- en beleidshersiening verbied word en ’n gebruik-of-verloor-beginsel sal waterregte geld. Gelykheid (insluitend rassetransformasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

Dit is ‘n gevaarlik om te dink dat die regering se herverdelingsbeleid slegs op landbougrond gemik is. Hierdie wette is juis so geformuleer dat dit ’n regsraamwerk skep wat uiteindelik op alle soort eiendom van toepassing gemaak kan word. Vervang gerus telkens die woord “grond” of “water” hierbo deur “my eiendom”, dan raak die volle omvang van staatsbeheer duidelik.

Die bedreiging van indivi­duele eiendomsreg is ’n saak wat elkeeen regstreeks raak: jou huis, sake-onderneming,aandele, intellektuele eiendom en spaargeld kan ingevolge die nuutste wetsontwerpe in die staat se visier kom.

Die strategie is om eiendomsreg stelselmatig af te takel: Die staat beperk eers ­eiendomsreg deur fyn beplande wetgewing en neem dan de facto beheer oor eiendom wanneer dit te laat is om iets daaraan te doen. Dit is stadiger, slimmer en oënskynlik baie meer polities korrek as die proses wat in Zimbabwe gevolg is, maar die uitkoms is net so ingrypend.

Suid-Afrika staan voor ’n ekonomiese kruispad. Dit is die sakegemeenskap se plig om te verseker dat die regte keuses gedoen word.

Cornelius Jansen van Rensburg is ­uitvoerende hoof van AfriSake.

Source: http://m.news24.com/rapport/Weekliks/Debat/Staat-wil-als-he-nie-net-grond-20140531

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s