Rasiste skiet en beroof pastoor

Hy kon die aanvaller nie self skiet nie, want hy
weet nie hoe ’n vuurwapen werk nie.
“Ek het vir Johan die vuurwapen gegee. Hy het
twee keer op die aanvaller geskiet, maar gemis. Ek
het ’n klip opgetel om hom te gooi, maar ook
gemis.”
So het Joseph Moyo (27), ’n stukwerker wat die
naweek ’n Pretoriase pastoor se lewe gered het,
gister gesê.
Moyo, van Soshanguve, het oornag ’n held geword
nadat hy met die gewonde dr. Johan Rademeyer
teen ’n koppie by die Theo Martins-pas na die
snelweg afgesukkel het om hulp te soek.
“Ek het gekeer dat hy nie van die berg af rol nie.
As hy alleen was, sou hy gesukkel het,” het Moyo
gesê.
Hy het in Tswana vertel hoe hy hom “skoon stil
geskrik het” toe hy en Rademeyer Saterdag deur
twee mans, wat hulle met blomme in die hande
genader het, aangeval is.
“Ek het dit nie verwag nie. Ek sal nie vergeet hoe
hulle vuurwapens uitgeruk het nie. Ek het geskrik.
Ek het maar net stilgebly toe hulle ons aanval.”
Beeld het gister berig hoe Rademeyer (47), ’n
medeleraar van die Pinkster Protestante Kerk in
Roseville, vir Moyo, ’n stukwerker, van ’n
straathoek af gehuur het om hom te help om
klippe by ’n koppie op te laai vir sy tuin.
Op die koppie het twee mans nader gestap gekom.
“Toe Johan hulle groet, ruk hulle hul vuurwapens
uit,” het Moyo gesê.
Moyo en Rademeyer het op die grond gaan lê.
Moyo se hande is met tou vasgebind, terwyl
Rademeyer se hande met draad vasgebind is.
“Hulle het vir my gesê hulle het nie ’n saak met
my nie.”
Die rowers het Rademeyer ’n “white bastard”
genoem, sy bankkaart en selfoon gevat en die
geheime kode geëis.
“Hulle het nie eens my selfoon gevat nie.”
Een van die rowers het gesê hy gaan geld trek.
“Hulle het vir ons gesê wanneer hy terugkom,
gaan hulle ons doodmaak.
“Ek het net stilgebly. Ek kan nie vir jou sê wat ek
op daardie oomblik gevoel het nie.”
Rademeyer is in die proses in die been geskiet. Hy
het die aanvaller wat hulle bewaak het, oorreed
om sy voete losser te maak.
Toe die man oor hom buk, het die pastoor hom
geskop. Rademeyer het ondertussen losgekom.
Die rower het op Rademeyer geskiet, maar die
vuurwapen het geweier. Die rower het die wapen
neergegooi toe Rademeyer weer op hom afstorm.
Moyo het intussen ook losgekom en gesien hoe
die vuurwapen val. Hy het dit opgetel en vir
Rademeyer gegee wat toe twee skote geskiet het.
Die aanvaller het weggehardloop.
“Johan was baie swak. Hy het teen my geleun en
ek het hom na die snelweg gedra.”
Moyo het gesê hy het gewaai dat die mense moet
stop, maar niemand wou nie, totdat ’n Sotho-vrou
stilgehou en gebel het.
“Ek is dankbaar ons al twee lewe nog.”
Rademeyer se vrou, Elsabé, het gesê dit gaan
goed met hom in die Akasia-hospitaal.
“Ons wag net dat hy geopereer word. Dit is net
genade van die Here.”

Source: m.news24.com/beeld/Suid-Afrika/Nuus/Alleen-sou-hy-gesukkel-het-20130325

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s