Wille woeste wesrand

Nóg ’n inwoner van Muldersdrift is deur rowers geskiet.
Kieran Harris (22) is in ’n bedenklike toestand in ’n
hospitaal nadat ’n rowerbende hom eergister op ’n
hoewe in Elandsdrift oorval en vier keer op ’n kort
afstand geskiet het.
Harris het maar 11 dae lank op die hoewe – waar
rowers in November ook vir Jacques Botha (51) oorval
en voor sy vrou en jong seun doodgeskiet het – gewoon.
Debbie Holmes, Harris se ma, het gister gesê dat hy in
die Life Flora-kliniek deur dokters in ’n koma geplaas is
nadat albei sy longe platgeval het. Hy is egter in ’n
stabiele toestand.
“Hy sal vermoedelik weke lank behandeling moet
ontvang, maar die dokter is optimisties oor sy kans op
herstel,” het Holmes gesê.
Volgens haar het een van die koeëls regdeur Harris se
linkerhand gegaan en is hy ook in sy nek, rug en
linkerskouer getref.
“Daar is ’n koeël langs sy rugstring en die patroon wat
hom in die skouer getref het, het naby sy hart gaan lê so
dit kan dalk baie gevaarlik wees om te opereer en dié te
verwyder.”
Volgens haar was Harris en drie Franse toeriste wat by
hom gekuier het omstreeks 22:30 besig om vir aandete
aan te sit toe die drie gewapende mans op hulle
toegeslaan het.
Na wat verneem word het hulle Harris en die toeriste
beveel om plat op die grond te gaan lê en het hy
probeer om homself te verdedig toe die rowers hom
skielik begin aanrand. Hulle het hom toe voor die
toeriste geskiet.
Beeld het verlede jaar berig hoe Botha ook op 17
November op dieselfde hoewe deur “ten minste drie
groot mans” oorval en toe voor sy vrou, Anél, en
driejarige seuntjie Neo doodgeskiet is.
Dié was op sy beurt weer die tweede bloedige aanval in
twee dae op die hoewe.
Botha se dogter uit sy vorige huwelik, Tanya (22), het
destyds vertel hoe haar ma ook vyf jaar vantevore
tydens ’n huisrooftog in Moreletapark, Pretoria, voor
haar en haar pa vermoor is.
In die destydse aanval het ses mans in Maart 2007 by
die Bothas se woning in Pretoria ingebreek en hom, sy
destydse vrou, Tinkie (44), Tanya en haar kêrel en ’n
vriend met messe en bakstene aangeval.
Tanya se ma is later in die Pretoria-Oos hospitaal
weens bloedverlies dood.
Mike Walden (63), ’n buurman op die hoewe, het in
November bitterlik gekla dat die opsigter van die
perseel ná die aanval op die Bothas homself uit die
voete gemaak en aangekondig het dat hy nou die
eiendom in die mark wil sit.
Warren Lurie, die opsigter, het in daardie stadium gesê
dat hy eenvoudig nie meer veilig voel daar nie en so gou
moontlik van die plek ontslae wil raak. Hy het egter
gister erken dat hy intussen nuwe inwoners op die
perseel, insluitende Harris, laat intrek het.
Die rowerbende het benewens selfone en ander
besittings ook die een vroulike toeris se handsak, waarin
haar paspoort en ander dokumente was, by haar
afgevat.

Source: m.news24.com/beeld/Suid-Afrika/Nuus/Geskiet-na-11-dae-op-hoewe-20130111

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s