Barbaarse plaasaanval

Brits. – ’n Hulpelose 94-jarige vrou is hier op ’n plaas deur vier
rowers met ’n warm pan gebrand, in haar gesig geslaan en
rondgepluk; haar 74-jarige seun is met drie skote van agter
doodgeskiet; haar 62-jarige seun is in die maag geskiet; en
haar agterkleinseun is met ’n mes in die kop gesteek.
Dié gruverhaal het hom gister in die vroegoggend op die plaas
Geluk buite Brits in Noordwes afgespeel.
Maria Barnard (94) was gisteraand veilig in haar seun, Johan,
se huis in Murrayfield in Pretoria. Sy kon nie veel van die
aanval vertel nie, maar het gesê sy kan nie hoor nie, want
“hulle het my op my oor geslaan”.
Johan se broer, Hekkie (74), is dood nadat hy van agter in die
kop, die skouer en die rug geskiet is. Sy ander broer, Nico (62),
eienaar van die familieplaas Geluk, is een keer in die maag
geskiet. Hy is gisteraand geopereer in die Ga-Rankuwa-
hospitaal.
Johan het gisteraand gesê hy is verbitterd. “My broer is ’n
skiettrofee van die ANC en misdadigers.”
Volgens hom was Nico besig om ontbyt te maak toe hy die
honde hoor blaf. Hy het die deur oopgemaak en is dadelik in
die maag geskiet. Die rowers het geld en vuurwapens gevra.
Die rowers het voor die aanval Barnard se agterkleinkind,
Adam (40) – wat in ’n tweede huis op die plaas woon, en sy
gesin aangeval. Adam, sy vrou, Daleen, en sy twee kinders,
Adam jr. en Jaco, is aangerand en vasgemaak. Adam is met ’n
strykyster aan die bobeen gebrand. Hul selfone,
skootrekenaars en geld is gesteel.
Die rowers is daarna na Barnard se nabygeleë huis, waar hulle
haar met die pan gebrand het wat Nico besig was om te
gebruik.
Nico se tienerseun, Nico jr. (16), is twee keer met ’n mes in
die kop gesteek. Hy is na behandeling in ’n plaaslike hospitaal
ontslaan.
Die rowers het drie vuurwapens en Barnard se handsak en
geld gesteel.
Hekkie het glo probeer weghardloop en is toe in die rug
geskiet.
“Wat het Ouma en Hekkie aan hulle gedoen? My dogter is ook
vier maande gelede dood. Ek voel leeg,” het Johan gesê.
Charles Nelson, wat naby Geluk boer, het gister op die toneel
gesê in die laaste drie maande was daar vier plaasaanvalle in
daardie omgewing.
Die wreedaardigheid van plaasaanvalle waartydens mense
onnodig gemartel en vermoor word al het die aanvallers reeds
hul buit gekry, is vandeesweek tydens die bekendstelling van
’n verslag van Solidariteit se navorsinginstituut bekend
gemaak. Plaasmoorde gaan met baie meer geweld en
marteling gepaard as wat mense weet, is by die verslag se
bekendstelling gesê.
Lt.kol. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het gesê
die Barnard-gesin se aanvallers het met ’n Nissan Navara,
R10 000, selfone en vuurwapens weggekom.
Die Navara is later verlate op die Bethanie-pad gevind, berig
Hilda Fourie .
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Maria Barnard (94) gister in haar seun se huis in Murrayfield,
Pretoria. Sy is op die arm gebrand met die pan waarin haar
seun Nico besig was om ontbyt te maak toe hulle vroeg
gisteroggend aangeval is. Haar ander seun is in die aanval, op
’n plaas naby Brits, doodgeskiet. Foto: Lisa Hnatowicz

Source:m.news24.com/beeld/Suid-Afrika/Nuus/Martel-aanval-20121130

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s