Swak regering naderhand oorbodig

Sewentien jaar ná die einde van apartheid is daar ’n groeiende bewuswording dat ons samelewing gevaar loop om in duie te stort.

Die struggle-ideologie van destyds was veronderstel om die raamwerk te vorm vir ’n toekomstige Suid-Afrika. Daardie toekoms is egter nou besig om op sy eie verlede in duie te stort.

Politieke beloftes het net beloftes gebly en die nuwe regeringsinstellings vind dit onmoontlik om in die drome en behoeftes van die bevolking te voorsien.

Dit is ’n pynlike tyd terwyl leiers en politieke partye onwillig is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die slegte besluite van die verlede.

Op die oppervlak lyk alles miskien goed, terwyl instellings van politieke mag klaarblyklik steeds funksioneer. Daar word gereeld verkiesings gehou en dit lyk of die parlement nog bespreek, besluite neem en die regering beïnvloed.

In werklikheid is die land egter in ’n groot penarie. Die ANC het dalk die politieke mag in die parlement, maar in die staatsdiens en op die sypaadjies het hy die vermoë om te regeer, verloor.

Hierdie onvermoë is oral sigbaar. Transformasie en die verlies aan vaardighede het gelei tot die ineenstorting van die staatsdiens op vele terreine.

Om net ’n paar voorbeelde te noem:

* Die getal veiligheidswagte in Suid-Afrika het tussen 2001 en 2010 amper verdubbel van 195 000 tot 387 000. Ons het nou drie veiligheidswagte vir elke polisielid. Selfs die regering maak staat op veiligheidswagte om hom te beskerm. In die proses het die regering dus ’n kernfunksie van die staat, om sy burgers te beskerm, versaak.

* Tussen 1997 en 2006 het die staatsdiens slegs 774 dokters bygekry, terwyl daar 11?400 dokters in dié tyd gekwalifiseer het.

Die departement van gesondheid wil vanjaar 3 000 verpleegsters oplei, maar in 2007 kon hulle nie eens 2 000 oplei nie, terwyl daar na raming 2 700 aan MIV/vigs gesterf het.

* Meer as ’n derde van die land se paaie is in ’n swak of baie swak toestand. Sowat 80% van ons paaie is ouer as die 20 jaar waarvoor hulle ontwerp is om te hou.

Dieselfde is waar van spoorvervoer waar die gemiddelde ouderdom van lokomotiewe 35 jaar is. Al het die krisis ’n aanloop van jare, is daar in die afgelope 17 jaar niks daaraan gedoen nie.

* Meer as die helfte van die land se 821 rioolwerke is óf in ’n kritieke toestand óf dit funksioneer nie bevredigend nie. Dit beteken dat miljoene liter onverwerkte riool jaarliks in ons riviere beland wat ernstige gevolge vir die landbou inhou.

* Die ses miljoen kinders in gr.?3 en gr. 6 wat in Februarie ’n leesvaardigheidstoets afgelê het, het ’n gemiddeld van onderskeidelik 35% en 28% gekry. Die meeste skoolgaande kinders kan dus nie lees nie.

Die oorsaak van hierdie disfunksionele regering moet gesoek word in die besluite wat die ANC-regering geneem het ná 1994 en in sy pogings om die “laaste oorblyfsels van apartheid te vernietig”.

Dit het onder meer beteken dat die staatsdiens die “breë rassesamestelling van die bevolking” moet weerspieël.

Die huidige bevolkingsamestelling is 79% swart, 9,6% wit, 8,9 % bruin en 2,5% Indiër. Deur politieke manipulasie is bruin en Indiërs “geherklassifiseer” as swart, wat beteken dat swart 90% van die samelewing uitmaak en wit 10%.

Die nie-rassige demokrsaie is dus weer volgens rassegronde geklassifiseer.

Hierdie persentasies verskaf nie net die konteks waarin transformasie uitgevoer word nie, maar ook die basiese riglyne van alle besluitneming en beplanning – ’n bloudruk vir ons toekoms.

Tien persent van die samestelling het dus ’n morele en grondwetlike verpligting om 90% van die histories agtergeblewe bevolking te dra.

Die neweproduk van hierdie ideologies gedrewe beleid was institusionele en funksionele aftakeling.

Wit mense wat die staatsdiens verlaat het, het hul vaardigheid en ervaring saamgeneem.

Die krisis op plaaslike bestuursvlak is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Munisipaliteite het nie ’n tekort aan water nie, hulle het ’n tekort aan mense wat weet hoe om die krane te laat vloei.
Wat ons vandag het, is ’n “getalle-demokrasie”. Dit beteken gesonde politieke beheer oor die staat, met geen gepaardgaande regeringsvaardighede nie. ’n Krisis is onafwendbaar.

Die aspek wat ’n mens die meeste bekommer, is die feit dat hierdie funksionele verval gelyktydig in vele sektore plaasvind. Die regering moet verskeie probleme gelyktydig hanteer, wat ’n reeds swak stelsel net verder oorlaai.

In tegniese terme staan dit bekend as sisteem-besoedeling. ’n Probleem in een gebied steek die grens na ’n ander segment oor en veroorsaak ’n domino-effek wat later nie gekeer kan word nie.

So byvoorbeeld was MIV/vigs aanvanklik net ’n mediese probleem. Nou het dit wyer uitgekring en tans is soveel weermagsoldate MIV-positief dat die weermag sy vermoë om ’n doeltreffende verdedigingsmag te wees, verloor het.

Die funksionele verval in die regering is reeds so erg dat daar nie meer ’n ondersteuningstelsel is nie. Dit open net die deur vir ’n verdere versnelling in funksionele verval.

Wat belangrik is, is dat hierdie verval nie ’n moontlikheid op die medium- of lang termyn is nie.

Dit gebeur nou. Die noodalarm moes vyf jaar gelede al geaktivieer gewees het.

Ons enigste uitkoms is om die vaardige mense wat ons steeds het, te gebruik om die lot van die land se mense te verbeter. Hulle kan hulself nie help nie en ’n mens word nie meer welvarend deur te stem nie.

Dít, tesame met tegnologiese vooruitgang, is ons enigste hoop.

As die regering nie die ontwikkeling en benutting van mensekapitaal en tegnologie kan of wil aanmoedig nie, sal dit deur die private sektor en burgerlike organisasies gedoen moet word.

Daarmee saam kom die moontlikheid dat die regering uiteindelik heeltemal oorbodig sal word omdat hy geen funksie meer het nie – ’n soort stille inploffing.

Dr. Jan du Plessis is hoof van Intersearch en verskaf strategiese bestuursinligting aan maatskappye en senior bestuurders.

* SA het 3 veiligheidswagte vir elke polisielid.
* Sowat 80% van ons paaie is ouer as die 20 jaar waarvoor hulle ontwerp is om te hou.
* Die meeste van skoolgaande kinders kan nie lees nie.
Soos hierdie stuk pad tussen Brits en Thabazimbi is meer as ’n derde van die land se paaie in ’n swak of baie swak toestand.

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/So-n-swak-regering-naderhand-oorbodig-20110930
[date:]2011-10-01

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s